Sjoe, ek is deesdae nostalgies. Ek verlang skoon na slegte tye saam met ou boyfriends en dae van siek wees in die bed. Hierdie versie laat my terug verlang na goeie tye in pre-primêr. Ek het dit opgevoer op die laerskool se verhoog met ‘n heldergeel hempie aan. Nog ‘n opvoerplek was die leë opelug teater bo op Paarlberg, sommer net vir Pa, Ma en Sussie. Dit was na die heyday van die plek toe daar net nog ou dooie kragkabels en konneksies oor was en voor dit oorgeneem is deur lelike graffiti van vermeende sataniste. Ek was nog nooit weer daar nie, maar Johnny Clegg het onlangs daar gesing, so die plek leef darem weer. In elk geval, hier is hy:
DRIE BORDE SOP (Kaapse moppie)
Daar woon ‘n mooi meisie
daar onder by die vlei,
haar pappa is ‘n bakker
en sy is lief vir my.
Haar liefde is vir my alleen,
maar glo my dit is waar:
jy moet ‘n meisie eers leer ken
of daar is groot gevaar.
Ek bring die bokkie na my huis
om ‘n stukkie te kom eet.
Sy sê sy is nie honger nie,
maar wragtag sy kon vreet:
Drie borde sop,
‘n hele skaapkop,
hoendereiers by die dosyn,
soutvleis koud,
‘n hele beesteboud
en ‘n halwe bottel brandewyn.
Toe bak my oemie
in haar beste pan,
eiers en tamaties,
soos my oemie kan;
denningvleis met groente,
beesvleis en soesatie,
hoender en tamatie,
in haar beste pan.
My hart word sommer naar,
want toe het ek geweet:
sy sê sy is nie honger nie,
maar wragtag sy kon vreet:
Drie borde sop,
‘n hele skaapkop,
hoendereiers by die dosyn,
soutvleis koud,
‘n hele beesteboud
en ‘n halwe bottel brandewyn.
ID du Plessis
Bygedra deur kostannie 

Bygedra deur kostannie 

Bygedra deur kostannie 